deur Leonard van der Dussen, Julie 2010
Die minister van onderwys het in haar verklaring van 6 Julie 2010 ‘n paar verstellings aangekondig wat sommige van die sogenaamde UGO-probleme aanspreek. Dit is nodig om “sogenaamde” te gebruik as kwalifikasie van “UGO” as ‘n soort versamelnaam vir baie dinge van UGO (soos die leermetodes) maar ook van ander twyfelagtige sake (soos leerareas) wat nie noodwendig UGO-sake is nie, gebruik word.
UGO het die skelwoord oor onderwysprobleme geword. Hierdie oorvereenvoudiging is ‘n slagyster waarin baie onderwys instansies getrap het, sodat al die aandag op “UGO” gerig word, terwyl wesentlike sake soos die onchristelike humanistiese wese van die hele nasionale kurrikulumverklaring, en die gehalte probleme van die onderwys (wat nie noodwendig net as gevolg van UGO is nie, maar ook die onbesonne “leerareas” waarvan sake soos ekonomie en bestuur hopeloos te vroeg in die laerskool al ingesleep is deur Kurrikulum 2005), voortgesit word.
Die saamtrek van agt leerareas na ses leerareas lyk op die oog af of dit die werk minder maak, maar daar word steeds nie weggedoen met dinge soos die sogenaamde “kuns en kultuur”, wat nie net indoktrinasie is nie, maar boonop tyd verspil wat op tale, wiskunde en ander basiese akademie gerig behoort te wees.
Daar is steeds ernstige bedenkinge oor die onderwysdepartement se laerskoolkurrikulum en hoe dit nog steeds nie die fokus terugsit op die basiese onderwys wat uiteindelik tot beter matriekuitslae moet lei nie.
Die kontrolestelsel van UGO, die portefeuljes, word weggedoen en dit wil lyk of die ingewikkelde en tydrowende assesserings vereenvoudig en verminder gaan word; maar met hierdie onderwysdepartement moet mens maar wag vir die werklike implimentering voor jy te gou bly raak. As gekyk word hoe die vraagtekens oor die leerareas besweer word deur dit doodeenvoudig skielik sommer “vakke” (SUBJECTS (sic)) te noem, moet daar nog meer kulkunsies verwag word; en truuks maak nie onderwys beter nie.
Dis egter nie die UGO-elemente en wat daarmee gebeur wat die wese van die huidige staatsvoorskrifte vir onderwys bepaal nie. Deur al die aandag op “UGO” te vestig, word die behoud van die wese van die National Curriculum Statement mis gekyk: Kurrikulum 2005 en sy “sixteen strategies” word nie teruggetrek nie, maar volgens die verklaring, herverpak (“… ensuring that the National Curriculum Statement is repackaged…”) en (“… will repackage the existing curriculum into the general aims of the South African Curriculum…”).
Die oogmerke van Kurrikulum 2005 om humanistiese menseregtegedrewe burgers vir die staat te kweek, is nie herroep nie. Die minister se verklaring dui eerder op ‘n verslegting van die posisie van christelikheid in die staat se kurrikulum deurdat die onderwysdepartement al hoe duideliker voorskriftelik gaan raak en vanuit direkte staatsbeheer die detail in die leermateriaal toenemend gesentraliseerd gaan voorskryf met werkboeke en handboeke, waarvan die aanbieding se tydsbeplanning ook in meer detail voorgeskryf gaan word (“… clearly delineacted topics to be covered per term…”). Dit maak dit al hoe makliker om van buite ‘n skool te kan kontroleer of dit wat voorgeskryf word werklik so aangebied word.
Die verklaring gee geen aanduiding van die mate van vryheid van leermateriaal wat aan privaatskole oorgelaat gaan word nie. Die huidige situasie is dat organisasies wat christelikheid in die onderwys wil bou, soos die BCVO, ARSO en Impakonderwys juis die nasionale kurrikulumverklaring se geaardheid van ‘n breë raamwerk benut het om wel aan die staatskurrikulum onderhorig te wees, maar tot ‘n mate eie inhoud en aanbieding daarvan te doen. Dit lyk of die breë raamwerk nou met baie meer voorskriftelikheid vervang word.
Hierdie onderhorigheid aan Kurrikulum 2005 het nou gevolge vir hierdie organisasies wat met gebrekkige hulpbronne hulle leermateriaal alweer moet herrangskik om die hergroepering van die agt leerareas in ses areas na te volg, as daar gedweë steeds met die onderwysdepartement se raamwerke saamgestap gaan word. Die opstel van leermateriaal vir “EBW” (ekonomiese en bestuurswetenskappe) voor Graad 7 oor die afgelope jare is nou in die drein af, tensy hierdie skole daarmee gaan deurdruk. Dit gaan nou al hoe sigbaarder word watter onderwysinstellings vir hulleself dink en watter eintlik net die staat navolg.
Die vraag of onderwyshulpbronne in die christelike onderwysgeledere die vermorsing as gevolg van die navolging van staatsonderwys wat rondval mag aanhou bekostig, is steeds minder belangrik as die dringende noodsaak om christelike onderwys van die humanistiese nasionale kurrikulumverklaring los te maak. So beginselstandpunt het dan die byvoordeel dat daar ook onbelemmerd teruggekeer kan word na ware vakonderwys met basiese, gesonde onderwys.
Die minister se verklaring gee nog geen aanduiding of daar weer terugbeweeg gaan word na klanklees, maaltafels en gedrilde taaloefeninge en spelvaardigheid nie. Die gejuig wat opgaan dat die regering UGO nou verwerp het, is voortydig. Daar is nog ‘n paar sake wat duidelik moet word. Daar is immers al ‘n groot groep onderwysers die afgelope paar jaar in UGO opgelei en geïndoktrineer om UGO aan te bied en hierdie kursusse stop nie nou meteens nie.
Daar is reeds strukturele skade in Suid-Afrikaanse onderwys en die christelike onderwysorganisasies wat aan staatsonderwys gekoppel bly, se onderwys ly ook voortdurend skade. Christen-Afrikaners moet beheer neem oor hulle eie onderwys van onder tot bo om onbeskaamd die enige ware God in alles te bely en gesonde beproefde onderwys aan te bied.
(Lees ook die SAOU se Nuusflits 31/2010 van 16 Julie 2010, wat ook aantoon dat daar met woorde gespeel word en dat daar eerder gevaartekens is as baie om oor bly te word).
____________________________________________________________________________________
AGTERGROND
Leonard van der Dussen is die besturende direkteur van Indicato Inligting (Edms) Bpk wat deur ‘n filiaal Raslouw Onderwys (Edms) Bpk aktief in onafhanklike onderwys los van regeringsonderwys betrokke is. Indicato se kurrikulumstelling neem duidelik standpunt in vir christelike gesonde onderwys.
Kyk www.indicato.co.za en www.raslouwskool.co.za vir verdere inligting.