Mens weet nie meer of jy moet lag en of jy moet huil nie. Wat mens wel kan agterkom – as jy dit wil sien – is dat dit tyd word om los te breek van die onstabiele en onbetroubare regeringsonderwys van die huidige Suid-Afrikaanse regering.
Op 25 Mei 2010 word berig dat die Suid-Afrikaanse matriek ‘n “regmerkie” kry (kyk berig verder ondertoe), maar skaars ‘n maand later word die leerarea “fisiese wetenskappe” sommer bietjie kortgeknip. Dit plaas opnuut vraagtekens agter enige ontledings oor die matriekstandaard en maak sulke ondersoeke vinnig verouderd.
Hierdie lukrake optrede in die akademie is natuurlik in ooreenstemming met die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, se uitspraak: “Ons moet ons kurrikulums en onderrigstrategieë egter aanpas by die studentebevolking wat ons het. Ons kan nie die jeug wat ons het iewers heen uitvoer en ander kry nie en ons gaan nie binnekort ‘n radikaal ander soort student kry nie” (Beeld, “Verplig Afrika-taal hiér – Nzimande”, bl 4, 23 April 2010). Dis maklik: as die student nie by die wetenskap kan bykom nie, verlaag die wetenskap tot by die student.
Dis natuurlik ekonomiese, filosofiese, sosiologiese, opvoedkundige en nog baie ander soorte onsin, maar hier het ons dit prakties voor ons. Dit gebeur.
Die Umalusi-sertifikaat en dit wat daaragter sit, het sy geloofwaardigheid verloor. Dit is noodsaaklik dat mense wat akademiese erns met die opleiding van hulle kinders het, geleenthede buite die staatsbestel opsoek. Die Umalusi-variante, soos die BCVO (met sy OAER) en die IEB, sal moet verantwoord of Umalusi as gehalte-waghond nog enige geloofwaardigheid het.
Mnr Willie Janse van Rensburg, waarnemende onderrigbestuurder van die BCVO, het in ‘n skrywe op die cvoskole-poslys gesê: “Dit is ‘n uitgebreide sillabus, maar met harde toegewyde werk van onderwysers en leerlinge raak ons kinders tog die werk baas. Die staat probeer om met lading van inhoud ‘n standaard daar te stel. In die onderwys weet ons egter dat nie net inhoud en eksamens nie, maar veral dit wat in die klaskamer gebeur, die werklike standaard bepaal”. Dis nie duidelik of die OAER (en die IEB) se matrikulante vanjaar dan dieselfde vergunning as die staatskole gaan kry nie, maar in elk geval is is daar waarheid in sy stelling dat die onderwysgehalte in die klaskamer eerder as blote volume (“lading”) die standaard beïnvloed. Tog moet dit nie misgekyk word dat die voortdurend vermindering van leerinhoud die akademiese waarde verlaag nie. Onderwys moet wydte én diepte hê.
Wat die motivering van die staat se besluit oor die “fisiese wetenskappe” betref, is daar blykbaar nie oorweeg of die probleem in die wanverhouding tussen wiskunde- en wetenskappunte nie dalk die gevolg was van wiskunde wat so bietjie te maklik was nie? Berigte oor die afgelope jare het eerder in daardie rigting gedui, en die feit dat daar ‘n derde vraestel in die hele proses vir wiskunde nodig geword het, ondersteun eerder die beskouing dat die probleem by die te dun wiskunde is. Let op die opmerking in die berig oor die regmerkie vir matriek, dat die wiskunde juis so bietjie spesiale vermelding kry in verband daarmee dat dit dalk meer om die lyf moet kry.
Dit sal interessant wees om die IEB en die OAER se reaksie op hierdie verwikkelinge te sien en veral om te sien of hulle werklik erns daarmee het om onafhanklik en akademies verantwoordbaar op te tree en of hulle onbepaald Umalusi-onderdane gaan bly.
Leonard van der Dussen
Junie 2010
______________________________________________________________
Matrieks sal minder vir wetenskap leer
2010-06-19
CARIEN KRUGER IN PRETORIA
Matrieks het vanjaar minder leerwerk in fisiese wetenskappe vir die eksamen, maar dié laat nuus is bittersoet.
Onderwysers met wie Rapport die afgelope week gesels het, verwelkom die uitval van sekere werk, maar sommiges sê hulle het dit reeds behandel en die tyd is dus verspil.
Dr. Junita Kloppers-Lourens sê dis te verstane dat onderwysers en leerlinge bly sal wees oor minder werk omdat dit tot beter punte kan lei.
Maar “’n verskraling” van leerwerk is nie die oplossing vir die probleme met die vak nie. “Dit is krisisbestuur en onwetenskaplik.”
Sy vra hoekom die goedkeuring van die addendum tot eksamenriglyne so lank geduur het as die gehalteversekeringsraad Umalusi reeds verlede jaar bevind het die kurrikulum is te omvattend en sommige onderwerpe te moeilik.
Verlede jaar se matrieks het baie swakker as gewoonlik in fisiese wetenskappe gevaar.
Kloppers-Lourens sê in ’n Gautengse top-skool was die gemiddelde in wiskunde 80%, maar in fisiese wetenskappe 65%.
Onderwysers skryf dit toe aan onder meer ’n te moeilike vraestel, ’n te groot kurrikulum en ’n te rigiede memorandum wat nie genoeg voorsiening gemaak het vir alternatiewe antwoorde nie.
Kloppers-Lourens bepleit ’n tweede wetenskapvak vir leerlinge wat in tegniese rigtings wil gaan studeer of werk.
Sy doen ook ’n beroep op die departement van basiese onderwys om ’n vaste kurrikulumeenheid te vestig waar kundiges op ’n deurlopende grondslag oor die kurrikulum kan besin en dit kan aanpas.
Dr. Granville Whittle, nasionale onderwyswoordvoerder, sê vrae oor die ses subonderwerpe en aspekte van subonderwerpe wat volgens die addendum van 12 Mei nie vanjaar geleer hoef te word nie, sou hoogstens 10 tot 15 punte (uit 150) kon tel.
Een onderwyser sê egter hy het twee weke aan net een van die subonderwerpe bestee en ’n ander raam dat hy tot vier weke kon gespaar het as hy betyds in kennis gestel is.
__________________________________________________
‘Nuwe’ matriek in SA kry regmerkie
2010-05-25 08:25
Alet Rademeyer
Pretoria
Suid-Afrika se nuwe Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) voldoen aan internasionale standaarde. Dít is pas bevind in ’n maatstafstudie wat die Britse nasionale agentskap verantwoordelik vir inligting oor beroeps-, akademiese en professionele vaardighede en kwalifikasies wêreldwyd (UK Naric) gedoen het.
Die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) het opdrag vir die studie gegee nadat daar vroeër heelwat oor die gehalte van die nuwe matriek bespiegel is. Matrikulante het dié eksamen die eerste keer in 2008 afgelê.
Anne Oberholzer, uitvoerende hoof van die IEB, het gesê vrae oor die gehalte van die kwalifikasie het die IEB aangemoedig om ’n onafhanklike ondersoek te laat doen. “Die doel was om duidelike antwoorde te kry sodat die swak- en sterkpunte van die kurrikulum en kwalifikasie bespreek kon word eerder as om op persepsies staat te maak.”
Die UK Naric het bevind die standaarde en strengheid van die sillabus en eksamens van die NSC vergelyk goed met dié van die gevorderde Britse algemene sertifikaat in onderwys.
Die studie het verskeie kwessies soos die struktuur van die kurrikulum, assesseringsprosesse, gehalteversekering en beheermeganismes in ag geneem.
Die studie het bevind die bykomende inhoud in die IEB se gevorderde wiskunde-eksamen is ’n beter weerspieëling van die vereistes in die Britse eksamen.
Daar is oorwegings dat die IEB ’n gevorderde vraestel vir Engels- huistaal moet ontwikkel wat meer vergelykbaar met die Britse gevorderde standaard sal wees.
Die studie het bevind dat spesifieke verbeterings nodig is om ’n meer bevredigende oorgang tussen gr.0 tot gr.9 en gr.10 te bewerkstellig.
Die noodsaaklikheid van formele erkenning vir prestasie aan die einde van gr.10 kan nie onderskat word nie, maar dit beteken nie noodwendig dat dit ’n afsnypunt moet wees waarop leerders die skool kan verlaat nie.
Dit moet eerder die standaard van die basiese onderwysfase en dié van die senior fase onderskei.
Die studie het ook gewys op die merkbare verskil tussen die deelname van leerders aan gr.12 en dié wat wel slaag. Ontledings dui daarop dat net ’n derde van kandidate wat in gr.10 kom tot in gr.12 vorder.
Daar is ook op die behoefte aan beskikbare goed gekwalifiseerde onderwysers vir die hele land gewys. Verskeie instellings, waaronder Hesa, Umalusi en die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid, het die verslag en bevindings verwelkom.
– Die Burger