‘n Berig oor reaksie van mnr Chris Klopper van die SAOU is onder andere gepubliseer op bladsy 10 van Beeld, 18 Junie 2010:
Skole kán Christelik wees, sê unie
2010-06-17 22:40
Clara Rautenbach
Daar is genoeg ruimte in die Skolewet sodat openbare skole ’n Christelike karakter kan vestig.
Só het mnr. Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), gister gesê.
Hy het gereageer op die uitspraak van mnr. Leonard van der Dussen, voorsitter van die Christelike Volkseie Onderrig-skool Verwoerdburg, dat daar nie ’n toekoms vir Christelike onderwys in openbare skole is nie.
Van der Dussen het in ’n verklaring gesê private skole soos dié van die Aksie Reformatoriese (Gereformeerde) Skoolonderwys en CVO-skole is die oplossing.
“Ons durf nie net skouers oor sport en ander buitemuurse aktiwiteite (saam met goeie akademie natuurlik) optrek en toekyk hoe leerlinge in die verwarring na die groot staatskool aangetrek word ten koste van die pogings wat ons tans vir Christelike skole het nie,” lui die verklaring.
Klopper het gesê daar is talle openbare skole wat daarin slaag om Christelike onderwys te gee, net soos in private skole.
“As die etos en karakter van die skool Christelik is, moet dit só toegepas word dat dit ander nie aanstoot gee nie.”
Volgens hom hang die etos en karakter van ’n skool van die skool se beheerliggaam af en daarom is dit belangrik dat die gemeenskap by die verkiesing van die beheerliggaam betrokke is.
__________________________________________________________________________
Leonard van der Dussen het soos volg daarop gereageer:
In die berig “Skole kan Christelik wees, sê unie”, probeer die SAOU se uitvoerende hoof, mnr Chris Klopper, die posisie van staatskole ten opsigte van christelikheid verdedig. Inderdaad het ek in my artikel oor die toekoms van christelike onderwys in Suid-Afrika, dit gestel dat sommige staatskole nog dapper probeer, maar daarop gewys dat dit nie volhoubaar is nie.
Dis waar dat in teorie en op geduldige papier daar ruimte in die Skolewet is dat openbare skole ‘n “Christelike karakter kan vestig”. Daar is ook wette in die land wat moord, roof, verkragting en nog baie ander misdrywe verbied, daar is spesifikasies vir rioolhantering, watersuiwering en nog baie ander dinge. Die wette waarborg nie wat in Afrika in die praktyk gebeur nie. Vra maar die Zimbabwiërs wat selfs hofbevele teen die besetting van hulle plase verkry of dit enigsins help.
Hy haal self die verdere probleem op, naamlik dat die christelikheid nie aanstoot mag gee nie. Christus self het getuig dat Hy vir sommige tot ‘n struikeling en vir ander tot aanstoot sal wees. God is enig en nie maar net nog ‘n god in ‘n ry gode nie, en ‘n skool wat waarlik belydend Christelik wil wees en die protestantse belydenis, het geen keuse as om die enigste God, die enigste Verlosser Christus te verkondig nie; ongeag of dit aanstoot gee of nie.
Mnr Klopper reageer op ‘n lang artikel wat die sake beredeneer. Ek het beslis nie gesê dat die BCVO of ARSO die oplossings bied nie: inteendeel is hulle maar net variante van Kurrikulum 2005 en as sodanig nie so sterk onderskeibaar van die goedbedoelende staatskole as wat enige organisasie wat as alternatief bekend wil staan, moet wees om te kan oorleef nie. Ek het geskryf:
“Die antwoord op hierdie vraag word besonder moeilik omdat daar wel staatskole is wat nog iets probeer voortsit van die momentum van gesonde onderwys en die Bybel nog oopslaan in die skool, terwyl alternatiewe soos CVO- en ARSO-skole onderling skerp wissel in gehalte. Voeg daarby dat laasgenoemde twee ook binne die raamwerk van Kurrikulum 2005 onderwys gee. Die antwoord is dus baie plaaslik en persoonlik om as’t ware met die plaaslike detail te moet kies tussen die plaaslik beskikbare gehalte en inhoudelike aanbieding en benadering tot klasgee, van watter een van die variante van Kurrikulum 2005 op die plaaslike vlak die minste skade gaan doen.”
Daar is twee kernprobleme in die christelike onderwys in Suid-Afrika: eerstens dat Kurrikulum 2005 se grondslag en uitgangspunte so on-christelik is dat geen christelike onderwys binne daardie raamwerk kan figureer nie, maar dit verg moed en dapperheid om daarteen op te staan en tweedens dat die huidige organisasies wat christelike onderwys wil bevorder, nie ‘n leefbare tuiste vir onderwysloopbane bied nie. Brood en botter kwessies moet in die oë gekyk word, en dis van hier wat mens vir mnr Klopper se ietwat heftige, maar oorhaastige reaksie begrip moet hê: hy is die uitvoerende hoof van die onderwysers se unie, en sy standpunte sal noodwendig eerstens op die basiese bestaansmoontlikhede fokus. Dit verskoon egter nie slordige en oorhaastige reaksie nie.
Oor Kurrikulum 2005 se onchristelikheid is daar ‘n artikel “Strategie vir ons ondergang” by http://www.indicato.co.za beskikbaar. Daar is geen heil binne Kurrikulum 2005 nie, en die naïewe wyse waarop elke stukkie terugtrek van UGO verwelkom word, terwyl die Kurrikulum 2005-bedreiging nie ‘n aks minder word nie, is hartseer.
Ons het by Raslouw Onderwys empatie met onderwysers in Suid-Afrika en maak ruimskoots gebruik van die aanhoudende stroom aansoeke wat vakonderwys in ‘n onbeskaamde christelike skoolomgewing wil help aanbied. Daar is ‘n toekoms vir christelike onderwys in Suid-Afrika, maar nog die grondwet nog die onderwyswet gaan dit bewerkstellig. Ook nie die buiteland nie. Die skole waarby ek ten nouste betrokke is, se leuse is “skep u eie toekoms”. Ons is besig daarmee.
Leonard van der Dussen (Besturende Direkteur: Raslouw Onderwys (Edms) Bpk)