Suid-Afrikaanse Onderwys

February 24, 2011

LAAT STAAN DIE NUTTELOSE ONDERWYS ONDER STAATSBEHEER

Filed under: Uncategorized — vddbadmin @ 5:43 nm

Aan wie behoort ons kinders: aan die staat, of aan die ouers (die gesin)? Die antwoord uit christelike huise is dadelik: “Aan die ouers!”; en tog tree ons Afrikanergemeenskappe met hulle keuses oor onderwys op soos mense wat bereid is om kinders aan die staat te gee in staatskole.

In Suid-Afrika is die rede hiervoor eenvoudig dat – veral vir Afrikanerkinders – staatskool, kerklike lewe en gemeenskapslewe vir baie dekades in die 20ste eeu ‘n eenheid gevorm het. Dit is nou tyd dat daar opgelet word dat hierdie eenheid verskeur is, en dat veral die staatskool “transformasie”-doelwitte nastreef, ideologie bevorder en in die proses onderwys ondergeskik maak aan die kommuniste se humanistiese gelykheidsbeskouings. Die matriekeksamen -   in die vorm van die “Nasionale Senior Sertifikaat” (NSS)  - is reeds deur hierdie gelykmakingsdoelwitte tot ‘n nuttelose oefening wat sertifikate uitdeel maar nie waarde het nie, afgebreek; en dis nie net die matriekeksamen self nie, maar ook die proses en inhoud wat daartoe opbou wat ernstig onder verdenking is.

Maar Afrikaners plaas hulle kinders steeds in massas gewilliglik in hierdie stelsel wat duidelike kenmerke het wat vir die Christen-Afrikaner op die oog af onaanvaarbaar sou wees:

  • Sinkretisme, waar die gelykmaking deurgevoer word tot by godsdiensgelykheid en oortreding van bv die eerste, tweede en derde gebod.
  • Afbreek van die Afrikaner in leermateriaal deur verdraaiing van die geskiedenis
  • Lae standaarde van onderrig

 

Wat laasgenoemde betref, moet daar op die stringe A’s gewys word, terwyl die universiteite dit nodig vind om ten spyte van onderskeidings in matriekuitslae, sogenaamde “akademiese geletterdheidstoetse” in te stel. Die Universiteit van Stellenbosch stel dit so:

“En as jy onderskeidings in matriek vir jou tale gekry het?

Daar is nie noodwendig ’n verband tussen die uitslag van die toets van akademiese geletterdheid en jou matriekuitslae vir jou taalvakke (ook nie jou ander vakke nie) nie. Die toets van akademiese geletterdheid bepaal of jy taalmatig in die akademiese omgewing oor die weg sal kom. Die taalvakke op skool het iets anders ten doel.”

Die vraag oor die nut al dan nie van opleiding binne die Suid-Afrikaanse nasionale kurrikulum en al sy doelwitte en vereistes, moet ernstig gevra word. Baie ernstig, as ‘n gesiene Suid-Afrikaanse universiteit dit prontuit stel dat jou skoolonderskeidings nie noodwendig akademiese geletterdheid meebring nie; en ander (Afrikaanse) universiteite het soortgelyke opmerkings in hulle pamflette.

Selfs vir ‘n ouer wat nie meer so sterk op die christelike vraagstukke in die onderwys ingestel is nie, moet die rasionele waarskuwing hieruit na vore kom dat sy kind – dalk jou kind – met ‘n soort skoolopleiding besig is wat nie die nodige akademiese skoling vir die lewe as resultaat het nie. Waarvoor gaan die kind dan skool en watter soort liefde is dit om die kind maar te laat akademies veragter en nie na beter opleiding te soek nie?

Hoeveel te meer behoort die christelike gelowige ouer wat waarlik sy kind hoog ag, dan nie op hierdie waarskuwings ag slaan nie?

Die toename in die aantal leerlinge in privaatskole in Suid-Afrika, is dus nie verbasend nie. Dit gaan egter ook nie alles voor die wind nie, en dis veral die Christen-Afrikaner wat tegelyk geloofsomgewing, kultuureie omgewing en gesonde onderwysstandaarde wil handhaaf, wat sukkel om ‘n lewenskragtige en volhoubare onderwysmodel in te stel. Dit is noodsaaklik dat daar meer kapitaal vir hierdie privaatonderwys wat onder eie kulturele en akademiese beheer staan, bymekaargevoeg word om van versplinterde goeie bedoelings na ‘n aantreklike, volhoubare skoolstelsel te vorder wat van pioniersfase na bedryfsfase kan oorskakel.

Dit is ‘n voorvereiste dat Afrikaner-onderwys homself moet befonds en buite die staat se onregmatige wette ‘n moderne korporasie bedryf waartoe leerlinge aangetrek sal word as skool van eerste keuse. Die produk moet losbreek van die onderwysramp wat die huidige regering oor Suid-Afrika bring en die losbreek kan nie gebeur solank enige vorm van die NSS aangebied word nie. Dit maak aansluiting by eerste wêreldse standaarde en benutting van internasionale eksamens noodsaaklik totdat daar ‘n behoorlike, vrye Afrikaanse eksamen wat sy akademiese staanplek in die mark sal moet verwerf, gevestig is.

Daar is al hoe duideliker bewyse dat die regering volledige en harde beheer oor onderwys neem:

  • Die “curriculum assessment policy statements (CAPS)” wat die Departement van Onderwys in Oktober verlede jaar gepubliseer het, neem beheer oor wat in die klaskamer voorgeskryf word tot op detailvlak. Dit maak dit maklik om staatskole wat nog probeer om departementele voorskrifte te omseil, en om ander aanbieders van die NSS te meet en te dwing om meer en meer die staatsvoorskrifte te aanvaar.
  •  Die ANC het beheer geneem oor die druk van skoolboeke: Charles Malan se artikel in Beeld (18 Februarie 2011) “ ‘n Staatsgreep op die skoolboekbedryf?” beskryf hoe die skoolboeke ‘n eenstroombedryf word waar die ANC regstreeks die inhoud kan manipuleer tot eenvormigheid oor die hele land (en daarby ook nog weer die winste vir die drukwerkkontrakte opneem).
  • Die Departement van Onderwys het onlangs begin met ‘n direktoraat vir privaatskole, en Umalusi neem ook duidelik sterk inspraak oor privaatskole wat die NSS aanbied (dit sluit die alternatiewe eksamenrade IEB en ERCO in).

 

Die interessante is dat Umulasi skole wat ander kurrikulums as dit wat onder die raamwerk van die nasionale kurrikulumverklaring val, aanbied, spesifiek uitsluit dat hulle nie onder Umalusi val nie. Dit word duidelik uit die bepalings van onlangs gepubliseerde “Policy for the Quality Assurance of Independent Schools and the Accreditation and Monitoring of Assessment Bodies” waarin afdeling 4 spesifiseer dat die “policy” net van toepassing is op dit wat binne die NSS-raamwerk val. Hulle stel dit ook duidelik in hulle vrae en antwoorde-afdeling (www.umalusi.org.za) dat skole wat nie die NSS aanbied (wat bv CIE aanbied) nie onder Umalusi resorteer nie.

Die strewe na onderwys vry van die kommunistiese gelykmaking is moontlik: bring kapitaal bymekaar daarvoor en bedryf onderwys buite die nasionale kurrikulum en die NSS.

 Leonard van der Dussen  -  lvddussen@indicato.co.za

22 Februarie 2011

December 18, 2010

DIE FEITE OOR EKSAMENINSTELLINGS

Filed under: Eindeksamen/ matriek,Kurrikulum — vddbadmin @ 6:36 nm

Daar is in Suid-Afrika ‘n onversigtigheid in uitsprake oor eksameninstellings, veral ten opsigte van wat ons nog altyd as “matriek” geken het, wat sorgwekkend is. Kom ons som kortliks die feite op:

Die algemene staatsmatriek is deesdae die “Nasionale Seniorsertifikaat” (NSS) eintlik meer dikwels bekend onder die Engelse benaming “National Senior Certificate” (NSC). Dit is deesdae dieselfde vraestel vir elke vak aan die einde van Graad 12 wat dwarsdeur die land geskryf word. Die eksamens word georganiseer in provinsiale verband, waar elke provinsie as ‘n eksamenliggaam funksioneer. Die instansie wat die gehaltebeheer daaroor moet uitoefen, is “Umalusi” – ‘n staatsinstelling, deur die onderwyswetgewing daargestel en deur die staat gefinansier.

Daar is twee ander eksamenliggame wat ook deur Umalusi erken word, en tot ’n groot mate beheer word daarin dat vraestelle deur Umalusi goedgekeur en aanvaar moet word:

1.  ERCO oftewel die “Eksamenraad vir Christelike Onderwys/ Examination Board for Christian Education”. Dit was eers die “BCVO Eksamenraad”, en toe die OAER oftewel “Onafhanklike Afrikaanse Eksamenraad”. Dis ‘n Artikel 21-maatskappy onder beheer van die BCVO wat ‘n matriekeksamen aanbied wat deur die BCVO opgestel en bedryf word, onder toesig van en met akkreditering van Umalusi. Die sertifikaat wat uitgereik word, is dieselfde Umalusi-sertifikaat as vir matrieks wat die NSS doen. Die BCVO reik in ERCO-formaat ‘n bykomende sertifikaat uit.

2.   Die IEB oftewel “Independent Examination Board”; ook eie vraestelle en bedryf, eie uitslae, maar ook ‘n Umalusi-sertifikaat met die bykomende IEB-sertifikaat. Hulle eksamens is in Engels en Afrikaans beskikbaar.

Beide ERCO en IEB voldoen aan die riglyne van Kurrikulum 2005.

Heeltemaal losstaande van die doen en late van Suid-Afrika, is daar ‘n internasionale eksamenliggaam, naamlik Cambridge International Examinations (CIE) wat ‘n volle eie kurrikulumstelsel, eksaminerings op verskillende vlakke met volledige ondersteuning wêreldwyd aanbied. Die vraestelle word in Engels afgelê en in Brittanje gemerk vir ‘n eenvormige standaard. Dit is ‘n produk van die meer as 800-jaar oue Cambridge Universiteit en het ‘n lang akademiese rekord wat internasionale erkenning geniet.

Die CIE het ‘n amptelike ooreenkoms met die matrikulasieraad waardeur daar universiteitsvrystelling in Suid-Afrika gegee word, met amptelike sertifisering, vir minstens vier vakke op “AS”-vlak en een op “IGCSE”-vlak. Die toelatingspunttabelle van die Suid-Afrikaanse universiteite bevat dan ook die CIE-vlakke in verhouding tot die NSS en Suid-Afrikaanse leerlinge wat CIE-vakke behaal, kan regstreeks daarmee inskryf by die universiteite soos die afgelope jare al gebeur. Sonder Kurrikulum 2005 et al.

Dit is ietwat lagwekkend maar ook sorgwekkend dat daar by baie goedbedoelende mense steeds verwarring is oor die IEB en CIE: eersgenoemde is Suid-Afrikaans en maar steeds uitgelewer aan die nukke en grille van Umalusi, hoewel die IEB-aanbieding beter is as staatsonderwys, terwyl laasgenoemde internasionaal is en in geen opsig aan Umalusi onderhewig is nie, maar wel aan akademiese dienslewering en standaarde gemeet word en dus akademies onbelemmerd in ‘n ander klas is, onbelemmerd van die gelykmakingseise wat standaarde in Suid-Afrika laat daal.

Daar word hot en haar aansprake gemaak op “internasionale erkenning” van kwalifikasies. Individue moet maar sorgsaam self navraag doen oor wat ‘n Umalusi-sertifikaat buite Suid-Afrika kan regkry of nie. Gebruik die internet en doen self navraag. Daar is net te veel bemarking wat met werklikheid verwar word oor die waarde en erkenning wat verskillende kwalifikasies geniet.

Die Cambridge (CIE)-kwalifikasies word wel op baie plekke en meer lande erken, maar selfs hierdie sterk kwalifikasies  moet mooi verstaan word dat daar verskillende vlakke is en dat nie elke CIE-sertifikaat vir elke doel voldoende is nie.

‘n Interessante verwikkeling is die kombinasie van Cambridge IGCSE en ERCO se aanbieding wat lei tot verwerwing van die Nasionale Seniorsertifikaat (NSS): Breinlyn en Impakonderwys  het onlangs ‘n opsie aangekondig vir persone wat minstens 18 jaar oud is, om ‘n sogenaamde volwasse matriekroete te volg: dit kan bereik word deur sewe IGCSE-vakke te doen, saam met die tuisonderwysinstelling se Lewensoriëntering, en dit dan as Graad 11-kwalifikasie aan te bied. Daarna word een jaar Graad 12 van die betrokke instelling gedoen en die ERCO-eksamen afgelê om ‘n NSS te verwerf wat net soos die gewone skoolroete werk. Dit is in Engels en Afrikaans beskikbaar (die Graad 12-gedeelte; IGCSE is net in Engels). Dit is ‘n verdere aanvaarding van Cambridge in Suid-Afrikaanse onderwys en ‘n skuif wat die IEB moet laat nadink oor die nut van ‘n aparte Engelstalige eksamen wat deur Suid-Afrikaanse regeringstandaarde ingeperk word.

Skakel gerus as u meer inligting benodig: selfoon 082-5732-732 of e-pos lvddussen@raslouwskool.co.za

Leonard van der Dussen

18 Desember 2010/ hersien 28 Desember 2010

www.raslouwskool.co.za

www.indicato.co.za

September 20, 2010

“NKV” IS NIE ‘N KURRIKULUM NIE

Filed under: Kurrikulum — vddbadmin @ 8:04 nm

Daar is al baie geskryf en geredeneer oor kurrikulums. Die HAT verklaar dit kort en kragtig as “studiekursus, leergang” en daarmee is dit afgehandel. ‘n Kurrikulum is dus doodeenvoudig ‘n uiteensetting van wat geleer gaan word.

Geleerdes het vraagstukke by die eenvoud van wat ‘n kurrikulum is, gevoeg wat veral in die twintigste eeu gestaltes begin kry het. Een daarvan is of die kurrikulum net die inhoudelike (die “wat”) uiteensit, en of dit dalk ook die metode (die “hoe”) moet beskryf. Die huidige Suid-Afrikaanse Nasionale Kurrikulumverklaring (NKV) wat as “Kurrikulum 2005” bekend was, het die metode ingesluit, wat in hierdie kurrikulum ‘n soort uitkomsgebaseerde onderwys is. Suiwer uitkomsgebaseerde onderwys is dit nie, aldus die vader van hierdie siekte in die onderwys, dr William Spady  wat duidelike gronde vir sy afwys van Kurrikulum 2005 as werklik uitkomsgebaseerd in die ware sin aangee in  sy artikel “It’s Time to End the Decade of Confusion about OBE in South Africa” (Afrikaanse vertaling: “Dis genoeg: Maak ‘n einde aan die verwarring oor Uitkomsgerigte onderwys in Suid-Afrika”, Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, Jaargang 27 No 1: Maart 2008). Die NKV en ook die onlangse voorgestelde amendamente daarvan (die “Curriculum and Assessment Policy Statement” of “CAPS” vir elke leerarea) gaan voort met die eiesoortige geploeter van ‘n soort UGO wat alles wil assesseer, maar terselfdertyd ook ‘n voorgeskrewe uiteensetting van ‘n inhoudelike kurrikulum gee – twee dinge wat volgens Spady net nie kan saamwerk nie. Daarby probeer die NKV ook nog sosialistiese doelwitte afdwing soos “Social transformation; ensuring that the educational imbalances of the past are redressed, and that equal educational opportunties are provided for all sections of our population” (eerste kolpunt van 1.2(c) in die CAPS onder die opskrif: “The National Curriculum Statement Grades R – 12 is based on the following principles:”).

Die NKV beweeg so ver oor die grense van wat ‘n kurrikulum behoort te wees, dat dit ‘n vraag is of dit werklik ‘n kurrikulum is. Die CAPS’s stel dit tot ‘n mate reg met redelike inhoudelike lyste van wat geleer moet word, maar dit bly verpak onder opskrifte en beginsels van transformasie en hou aan om te veel van die metode te wil voorskryf (“The National Curriculum Statement Grades R – 12 (NCS) stipulates policy on curriculum and assessment in the schooling sector” (my beklemtoning)). In van die detailgedeeltes van die CAPS’s word ook uitgespel hoeveel take gedoen moet word en so meer.

As die wetenskaplike beskouing korrek is dat die NKV nie ‘n kurrikulum is nie, ontstaan die vraag wat dit dan is? Die NKV gee self die werklike verklaring in sy agtergrond en beginsels, dat dit ‘n prosedure van sogenaamde transformasie is om die nuwe Suid-Afrika te vestig en vas te lê. Die akademiese waarde van hierdie sogenaamde kurrikulum is dus ernstig onder verdenking ongeag die inhoudelike gedeeltes se diepte, wydte en relevansie of nie. Dit is wetenskaplik-akademies verwerplik.

In Suid-Afrika was staatsonderwys vir byna ‘n eeu lank sinoniem met gehalte-onderwys en dit het gewoonte geword om die staatskurrikulum te volg. Die regulatoriese raamwerk het so ontwikkel dat die navolg van die staatsvereistes en staatsertifikate die absolute norm geword het vir toelating tot tersiêre opleiding en dit het die gevoel van vanselfsprekendheid dat die staatskurrikulum noodwendig reg is, versterk. Dit is gevolglik ‘n moeilike erkenning en gewaarwording as die besef dat die staat nie meer goeie onderwys voorsien nie, en selfs nie meer vertrou kan word om minstens die riglyne reg na te vors en beskikbaar te maak nie.

Privaatonderwys bied die oplossing

Tog was dit vir eeue lank nie regerings nie, maar universiteite wat as selfstandige akademiese instellings akademiese vakkundigheid beskryf, bedryf en ontwikkel het en hoef daar nie in die 21ste eeu teruggedeins te word om in privaatinstellings onderwys op peil te kry, op gesonde wyse te bedryf en dit te ontwikkel nie.

Leonard van der Dussen

www.indicato.co.za

Julie 13, 2010

UG0 NIE DIE ENIGSTE PROBLEEM IN ONDERWYS NIE

Filed under: Kurrikulum — vddbadmin @ 7:14 nm

deur Leonard van der Dussen, Julie 2010

Die minister van onderwys het in haar verklaring van 6 Julie 2010 ‘n paar verstellings aangekondig wat sommige van die sogenaamde UGO-probleme aanspreek. Dit is nodig om “sogenaamde” te gebruik as kwalifikasie van “UGO” as ‘n soort versamelnaam vir baie dinge van UGO (soos die leermetodes) maar ook van ander twyfelagtige sake (soos leerareas) wat nie noodwendig UGO-sake is nie, gebruik word.

UGO het die skelwoord oor onderwysprobleme geword. Hierdie oorvereenvoudiging is ‘n slagyster waarin baie onderwys instansies getrap het, sodat al die aandag op “UGO” gerig word, terwyl wesentlike sake soos die onchristelike humanistiese wese van die hele nasionale kurrikulumverklaring, en die gehalte probleme van die onderwys (wat nie noodwendig net as gevolg van UGO is nie, maar ook die onbesonne “leerareas” waarvan sake soos ekonomie en bestuur hopeloos te vroeg in die laerskool al ingesleep is deur Kurrikulum 2005), voortgesit word.

Die saamtrek van agt leerareas na ses leerareas lyk op die oog af of dit die werk minder maak, maar daar word steeds nie weggedoen met dinge soos die sogenaamde “kuns en kultuur”, wat nie net indoktrinasie is nie, maar boonop tyd verspil wat op tale, wiskunde en ander basiese akademie gerig behoort te wees.

Daar is steeds ernstige bedenkinge oor die onderwysdepartement se laerskoolkurrikulum en hoe dit nog steeds nie die fokus terugsit op die basiese onderwys wat uiteindelik tot beter matriekuitslae moet lei nie.

Die kontrolestelsel van UGO, die portefeuljes, word weggedoen en dit wil lyk of die ingewikkelde en tydrowende assesserings vereenvoudig en verminder gaan word; maar met hierdie onderwysdepartement moet mens maar wag vir die werklike implimentering voor jy te gou bly raak. As gekyk word hoe die vraagtekens oor die leerareas besweer word deur dit doodeenvoudig skielik sommer “vakke” (SUBJECTS (sic)) te noem, moet daar nog meer kulkunsies verwag word; en truuks maak nie onderwys beter nie.

Dis egter nie die UGO-elemente en wat daarmee gebeur wat die wese van die huidige staatsvoorskrifte vir onderwys bepaal nie. Deur al die aandag op “UGO” te vestig, word die behoud van die wese van die National Curriculum Statement mis gekyk: Kurrikulum 2005 en sy “sixteen strategies” word nie teruggetrek nie, maar volgens die verklaring, herverpak (“… ensuring that the National Curriculum Statement is repackaged…”) en (“… will repackage the existing curriculum into the general aims of the South African Curriculum…”).

Die oogmerke van Kurrikulum 2005 om humanistiese menseregtegedrewe burgers vir die staat te kweek, is nie herroep nie. Die minister se verklaring dui eerder op ‘n verslegting van die posisie van christelikheid in die staat se kurrikulum deurdat die onderwysdepartement al hoe duideliker voorskriftelik gaan raak en vanuit direkte staatsbeheer die detail in die leermateriaal toenemend gesentraliseerd gaan voorskryf met werkboeke en handboeke, waarvan die aanbieding se tydsbeplanning ook in meer detail voorgeskryf gaan word (“… clearly delineacted topics to be covered per term…”). Dit maak dit al hoe makliker om van buite ‘n skool te kan kontroleer of dit wat voorgeskryf word werklik so aangebied word.

Die verklaring gee geen aanduiding van die mate van vryheid van leermateriaal wat aan privaatskole oorgelaat gaan word nie. Die huidige situasie is dat organisasies wat christelikheid in die onderwys wil bou, soos die BCVO, ARSO en Impakonderwys juis die nasionale kurrikulumverklaring se geaardheid van ‘n breë raamwerk benut het om wel aan die staatskurrikulum onderhorig te wees, maar tot ‘n mate eie inhoud en aanbieding daarvan te doen. Dit lyk of die breë raamwerk nou met baie meer voorskriftelikheid vervang word.

Hierdie onderhorigheid aan Kurrikulum 2005 het nou gevolge vir hierdie organisasies wat met gebrekkige hulpbronne hulle leermateriaal alweer moet herrangskik om die hergroepering van die agt leerareas in ses areas na te volg, as daar gedweë steeds met die onderwysdepartement se raamwerke saamgestap gaan word. Die opstel van leermateriaal vir “EBW” (ekonomiese en bestuurswetenskappe) voor Graad 7 oor die afgelope jare is nou in die drein af, tensy hierdie skole daarmee gaan deurdruk. Dit gaan nou al hoe sigbaarder word watter onderwysinstellings vir hulleself dink en watter eintlik net die staat navolg.

Die vraag of onderwyshulpbronne in die christelike onderwysgeledere die vermorsing as gevolg van die navolging van staatsonderwys wat rondval mag aanhou bekostig, is steeds minder belangrik as die dringende noodsaak om christelike onderwys van die humanistiese nasionale kurrikulumverklaring los te maak. So beginselstandpunt het dan die byvoordeel dat daar ook onbelemmerd teruggekeer kan word na ware vakonderwys met basiese, gesonde onderwys.

Die minister se verklaring gee nog geen aanduiding of daar weer terugbeweeg gaan word na klanklees, maaltafels en gedrilde taaloefeninge en spelvaardigheid nie. Die gejuig wat opgaan dat die regering UGO nou verwerp het, is voortydig. Daar is nog ‘n paar sake wat duidelik moet word. Daar is immers al ‘n groot groep onderwysers die afgelope paar jaar in UGO opgelei en geïndoktrineer om UGO aan te bied en hierdie kursusse stop nie nou meteens nie.

Daar is reeds strukturele skade in Suid-Afrikaanse onderwys en die christelike onderwysorganisasies wat aan staatsonderwys gekoppel bly, se onderwys ly ook voortdurend skade. Christen-Afrikaners moet beheer neem oor hulle eie onderwys van onder tot bo om onbeskaamd die enige ware God in alles te bely en gesonde beproefde onderwys aan te bied.

(Lees ook die SAOU se Nuusflits 31/2010 van 16 Julie 2010, wat ook aantoon dat daar met woorde gespeel word en dat daar eerder gevaartekens is as baie om oor bly te word).

____________________________________________________________________________________

AGTERGROND

Leonard van der Dussen is die besturende direkteur van Indicato Inligting (Edms) Bpk wat deur ‘n filiaal Raslouw Onderwys (Edms) Bpk aktief in onafhanklike onderwys los van regeringsonderwys betrokke is. Indicato se kurrikulumstelling neem duidelik standpunt in vir christelike gesonde onderwys.

Kyk www.indicato.co.za en www.raslouwskool.co.za vir verdere inligting.

Julie 1, 2010

WAARSKUWINGSLIGTE FLIKKER OOR DIE REGMERKIE VIR “NUWE MATRIEK”

Filed under: Eindeksamen/ matriek,Kurrikulum — vddbadmin @ 11:19 vm

Mens weet nie meer of jy moet lag en of jy moet huil nie. Wat mens wel kan agterkom – as jy dit wil sien – is dat dit tyd word om los te breek van die onstabiele en onbetroubare regeringsonderwys van die huidige Suid-Afrikaanse regering.
Op 25 Mei 2010 word berig dat die Suid-Afrikaanse matriek ‘n “regmerkie” kry (kyk berig verder ondertoe), maar skaars ‘n maand later word die leerarea “fisiese wetenskappe” sommer bietjie kortgeknip. Dit plaas opnuut vraagtekens agter enige ontledings oor die matriekstandaard en maak sulke ondersoeke vinnig verouderd.
Hierdie lukrake optrede in die akademie is natuurlik in ooreenstemming met die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, se uitspraak: “Ons moet ons kurrikulums en onderrigstrategieë egter aanpas by die studentebevolking wat ons het. Ons kan nie die jeug wat ons het iewers heen uitvoer en ander kry nie en ons gaan nie binnekort ‘n radikaal ander soort student kry nie” (Beeld, “Verplig Afrika-taal hiér – Nzimande”, bl 4, 23 April 2010). Dis maklik: as die student nie by die wetenskap kan bykom nie, verlaag die wetenskap tot by die student.
Dis natuurlik ekonomiese, filosofiese, sosiologiese, opvoedkundige en nog baie ander soorte onsin, maar hier het ons dit prakties voor ons. Dit gebeur.
Die Umalusi-sertifikaat en dit wat daaragter sit, het sy geloofwaardigheid verloor. Dit is noodsaaklik dat mense wat akademiese erns met die opleiding van hulle kinders het, geleenthede buite die staatsbestel opsoek. Die Umalusi-variante, soos die BCVO (met sy OAER) en die IEB, sal moet verantwoord of Umalusi as gehalte-waghond nog enige geloofwaardigheid het.
Mnr Willie Janse van Rensburg, waarnemende onderrigbestuurder van die BCVO, het in ‘n skrywe op die cvoskole-poslys gesê: “Dit is ‘n uitgebreide sillabus, maar met harde toegewyde werk van onderwysers en leerlinge raak ons kinders tog die werk baas. Die staat probeer om met lading van inhoud ‘n standaard daar te stel. In die onderwys weet ons egter dat nie net inhoud en eksamens nie, maar veral dit wat in die klaskamer gebeur, die werklike standaard bepaal”. Dis nie duidelik of die OAER (en die IEB) se matrikulante vanjaar dan dieselfde vergunning as die staatskole gaan kry nie, maar in elk geval is is daar waarheid in sy stelling dat die onderwysgehalte in die klaskamer eerder as blote volume (“lading”) die standaard beïnvloed. Tog moet dit nie misgekyk word dat die voortdurend vermindering van leerinhoud die akademiese waarde verlaag nie. Onderwys moet wydte én diepte hê.
Wat die motivering van die staat se besluit oor die “fisiese wetenskappe” betref, is daar blykbaar nie oorweeg of die probleem in die wanverhouding tussen wiskunde- en wetenskappunte nie dalk die gevolg was van wiskunde wat so bietjie te maklik was nie? Berigte oor die afgelope jare het eerder in daardie rigting gedui, en die feit dat daar ‘n derde vraestel in die hele proses vir wiskunde nodig geword het, ondersteun eerder die beskouing dat die probleem by die te dun wiskunde is. Let op die opmerking in die berig oor die regmerkie vir matriek, dat die wiskunde juis so bietjie spesiale vermelding kry in verband daarmee dat dit dalk meer om die lyf moet kry.
Dit sal interessant wees om die IEB en die OAER se reaksie op hierdie verwikkelinge te sien en veral om te sien of hulle werklik erns daarmee het om onafhanklik en akademies verantwoordbaar op te tree en of hulle onbepaald Umalusi-onderdane gaan bly.

Leonard van der Dussen
Junie 2010

______________________________________________________________
Matrieks sal minder vir wetenskap leer
2010-06-19
CARIEN KRUGER IN PRETORIA

Matrieks het vanjaar minder leerwerk in fisiese wetenskappe vir die eksamen, maar dié laat nuus is bittersoet.

Onderwysers met wie Rapport die afgelope week gesels het, verwelkom die uitval van sekere werk, maar sommiges sê hulle het dit reeds behandel en die tyd is dus verspil.

Dr. Junita Kloppers-Lourens sê dis te verstane dat onderwysers en leerlinge bly sal wees oor minder werk omdat dit tot beter punte kan lei.

Maar “’n verskraling” van leerwerk is nie die oplossing vir die probleme met die vak nie. “Dit is krisisbestuur en onwetenskaplik.”

Sy vra hoekom die goedkeuring van die addendum tot eksamenriglyne so lank geduur het as die gehalteversekeringsraad Umalusi reeds verlede jaar bevind het die kurrikulum is te omvattend en sommige onderwerpe te moeilik.

Verlede jaar se matrieks het baie swakker as gewoonlik in fisiese wetenskappe gevaar.

Kloppers-Lourens sê in ’n Gautengse top-skool was die gemiddelde in wiskunde 80%, maar in fisiese wetenskappe 65%.

Onderwysers skryf dit toe aan onder meer ’n te moeilike vraestel, ’n te groot kurrikulum en ’n te rigiede memorandum wat nie genoeg voorsiening gemaak het vir alternatiewe antwoorde nie.

Kloppers-Lourens bepleit ’n tweede wetenskapvak vir leerlinge wat in tegniese rigtings wil gaan studeer of werk.

Sy doen ook ’n beroep op die departement van basiese onderwys om ’n vaste kurrikulumeenheid te vestig waar kundiges op ’n deurlopende grondslag oor die kurrikulum kan besin en dit kan aanpas.

Dr. Granville Whittle, nasionale onderwyswoordvoerder, sê vrae oor die ses subonderwerpe en aspekte van subonderwerpe wat volgens die addendum van 12 Mei nie vanjaar geleer hoef te word nie, sou hoogstens 10 tot 15 punte (uit 150) kon tel.

Een onderwyser sê egter hy het twee weke aan net een van die subonderwerpe bestee en ’n ander raam dat hy tot vier weke kon gespaar het as hy betyds in kennis gestel is.

__________________________________________________

‘Nuwe’ matriek in SA kry regmerkie
2010-05-25 08:25

Alet Rademeyer

Pretoria

Suid-Afrika se nuwe Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) voldoen aan internasionale standaarde. Dít is pas bevind in ’n maatstafstudie wat die Britse nasionale agentskap verantwoordelik vir inligting oor beroeps-, akademiese en professionele vaardighede en kwalifikasies wêreldwyd (UK Naric) gedoen het.

Die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) het opdrag vir die studie gegee nadat daar vroeër heelwat oor die gehalte van die nuwe matriek bespiegel is. Matrikulante het dié eksamen die eerste keer in 2008 afgelê.

Anne Oberholzer, uitvoerende hoof van die IEB, het gesê vrae oor die gehalte van die kwalifikasie het die IEB aangemoedig om ’n onafhanklike ondersoek te laat doen. “Die doel was om duidelike antwoorde te kry sodat die swak- en sterkpunte van die kurrikulum en kwalifikasie bespreek kon word eerder as om op persepsies staat te maak.”

Die UK Naric het bevind die standaarde en strengheid van die sillabus en eksamens van die NSC vergelyk goed met dié van die gevorderde Britse algemene sertifikaat in onderwys.
Die studie het verskeie kwessies soos die struktuur van die kurrikulum, assesseringsprosesse, gehalteversekering en beheermeganismes in ag geneem.
Die studie het bevind die bykomende inhoud in die IEB se gevorderde wiskunde-eksamen is ’n beter weerspieëling van die vereistes in die Britse eksamen.

Daar is oorwegings dat die IEB ’n gevorderde vraestel vir Engels- huistaal moet ontwikkel wat meer vergelykbaar met die Britse gevorderde standaard sal wees.

Die studie het bevind dat spesifieke verbeterings nodig is om ’n meer bevredigende oorgang tussen gr.0 tot gr.9 en gr.10 te bewerkstellig.

Die noodsaaklikheid van formele erkenning vir prestasie aan die einde van gr.10 kan nie onderskat word nie, maar dit beteken nie noodwendig dat dit ’n afsnypunt moet wees waarop leerders die skool kan verlaat nie.

Dit moet eerder die standaard van die basiese onderwysfase en dié van die senior fase onderskei.

Die studie het ook gewys op die merkbare verskil tussen die deelname van leerders aan gr.12 en dié wat wel slaag. Ontledings dui daarop dat net ’n derde van kandidate wat in gr.10 kom tot in gr.12 vorder.

Daar is ook op die behoefte aan beskikbare goed gekwalifiseerde onderwysers vir die hele land gewys. Verskeie instellings, waaronder Hesa, Umalusi en die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid, het die verslag en bevindings verwelkom.
– Die Burger

Junie 21, 2010

REAKSIE VAN DIE SAOU OOR “DIE TOEKOMS VAN CHRISTELIKE ONDERWYS IN SUID-AFRIKA”

Filed under: Allerlei,Bestuur — vddbadmin @ 10:45 vm

‘n Berig oor reaksie van mnr Chris Klopper van die SAOU is onder andere gepubliseer op bladsy 10 van Beeld, 18 Junie 2010:

Skole kán Christelik wees, sê unie

2010-06-17 22:40

Clara Rautenbach

Daar is genoeg ruimte in die Skolewet sodat openbare skole ’n Christelike karakter kan vestig.

Só het mnr. Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), gister gesê.

Hy het gereageer op die uitspraak van mnr. Leonard van der Dussen, voorsitter van die Christelike Volkseie Onderrig-skool Verwoerdburg, dat daar nie ’n toekoms vir Christelike onderwys in openbare skole is nie.

Van der Dussen het in ’n verklaring gesê private skole soos dié van die Aksie Reformatoriese (Gereformeerde) Skoolonderwys en CVO-skole is die oplossing.

“Ons durf nie net skouers oor sport en ander buitemuurse aktiwiteite (saam met goeie akademie natuurlik) optrek en toekyk hoe leerlinge in die verwarring na die groot staatskool aangetrek word ten koste van die pogings wat ons tans vir Christelike skole het nie,” lui die verklaring.

Klopper het gesê daar is talle openbare skole wat daarin slaag om Christelike onderwys te gee, net soos in private skole.

“As die etos en karakter van die skool Christelik is, moet dit só toegepas word dat dit ander nie aanstoot gee nie.”

Volgens hom hang die etos en karakter van ’n skool van die skool se beheerliggaam af en daarom is dit belangrik dat die gemeenskap by die verkiesing van die beheerliggaam betrokke is.

__________________________________________________________________________

Leonard van der Dussen het soos volg daarop gereageer:

In die berig “Skole kan Christelik wees, sê unie”, probeer die SAOU se uitvoerende hoof, mnr Chris Klopper, die posisie van staatskole ten opsigte van christelikheid verdedig. Inderdaad het ek in my artikel oor die toekoms van christelike onderwys in Suid-Afrika, dit gestel dat sommige staatskole nog dapper probeer, maar daarop gewys dat dit nie volhoubaar is nie.

 Dis waar dat in teorie en op geduldige papier daar ruimte in die Skolewet is dat openbare skole ‘n “Christelike karakter kan vestig”. Daar is ook wette in die land wat moord, roof, verkragting en nog baie ander misdrywe verbied, daar is spesifikasies vir rioolhantering, watersuiwering en nog baie ander dinge. Die wette waarborg nie wat in Afrika in die praktyk gebeur nie. Vra maar die Zimbabwiërs wat selfs hofbevele teen die besetting van hulle plase verkry of dit enigsins help.

 Hy haal self die verdere probleem op, naamlik dat die christelikheid nie aanstoot mag gee nie. Christus self het getuig dat Hy vir sommige tot ‘n struikeling en vir ander tot aanstoot sal wees. God is enig en nie maar net nog ‘n god in ‘n ry gode nie, en ‘n skool wat waarlik belydend Christelik wil wees en die protestantse belydenis, het geen keuse as om die enigste God, die enigste Verlosser Christus te verkondig nie; ongeag of dit aanstoot gee of nie.

 Mnr Klopper reageer op ‘n lang artikel wat die sake beredeneer. Ek het beslis nie gesê dat die BCVO of ARSO die oplossings bied nie: inteendeel is hulle maar net variante van Kurrikulum 2005 en as sodanig nie so sterk onderskeibaar van die goedbedoelende staatskole as wat enige organisasie wat as alternatief bekend wil staan, moet wees om te kan oorleef nie. Ek het geskryf:

 “Die antwoord op hierdie vraag word besonder moeilik omdat daar wel staatskole is wat nog iets probeer voortsit van die momentum van gesonde onderwys en die Bybel nog oopslaan in die skool, terwyl alternatiewe soos CVO- en ARSO-skole onderling skerp wissel in gehalte. Voeg daarby dat laasgenoemde twee ook binne die raamwerk van Kurrikulum 2005 onderwys gee. Die antwoord is dus baie plaaslik en persoonlik om as’t ware met die plaaslike detail te moet kies tussen die plaaslik beskikbare gehalte en inhoudelike aanbieding en benadering tot klasgee, van watter een van die variante van Kurrikulum 2005 op die plaaslike vlak die minste skade gaan doen.”

 Daar is twee kernprobleme in die christelike onderwys in Suid-Afrika: eerstens dat Kurrikulum 2005 se grondslag en uitgangspunte so on-christelik is dat geen christelike onderwys binne daardie raamwerk kan figureer nie, maar dit verg moed en dapperheid om daarteen op te staan en tweedens dat die huidige organisasies wat christelike onderwys wil bevorder, nie ‘n leefbare tuiste vir onderwysloopbane bied nie. Brood en botter kwessies moet in die oë gekyk word, en dis van hier wat mens vir mnr Klopper se ietwat heftige, maar oorhaastige reaksie begrip moet hê: hy is die uitvoerende hoof van die onderwysers se unie, en sy standpunte sal noodwendig eerstens op die basiese bestaansmoontlikhede fokus. Dit verskoon egter nie slordige en oorhaastige reaksie nie.

 Oor Kurrikulum 2005 se onchristelikheid is daar ‘n artikel “Strategie vir ons ondergang” by http://www.indicato.co.za beskikbaar. Daar is geen heil binne Kurrikulum 2005 nie, en die naïewe wyse waarop elke stukkie terugtrek van UGO verwelkom word, terwyl die Kurrikulum 2005-bedreiging nie ‘n aks minder word nie, is hartseer.

 Ons het by Raslouw Onderwys empatie met onderwysers in Suid-Afrika en maak ruimskoots gebruik van die aanhoudende stroom aansoeke wat vakonderwys in ‘n onbeskaamde christelike skoolomgewing wil help aanbied. Daar is ‘n toekoms vir christelike onderwys in Suid-Afrika, maar nog die grondwet nog die onderwyswet gaan dit bewerkstellig. Ook nie die buiteland nie. Die skole waarby ek ten nouste betrokke is, se leuse is “skep u eie toekoms”. Ons is besig daarmee.

Leonard van der Dussen (Besturende Direkteur: Raslouw Onderwys (Edms) Bpk)

DIE TOEKOMS VAN CHRISTELIKE ONDERWYS IN SUID-AFRIKA

Filed under: Christelike onderwys — vddbadmin @ 10:31 vm

DIE TOEKOMS VAN CHRISTELIKE ONDERWYS IN SUID-AFRIKA

deur Leonard van der Dussen

15 Junie 2010

‘n Gelowige probeer om hom nie te kwel oor die toekoms nie. Terselfdertyd beplan hy met die inspanning van sy volle verstand, as deel van sy roeping om nie maar net dierlik instinktief te leef nie, as aktiewe geroepe werker wat verantwoordelikheid neem. Dis een van die gelowige paradokse, soos die uitspraak van “ek glo, kom my ongeloof te hulp”.

Onderwys is by uitstek iets wat die beste werk as dit netjies vooruit beplan word. Dit werk met langtermynplanne, waarvan enige koersverandering of inhoudelike bywerking rustig en met goeie insig lank vooruit beplan moet word. Dit is nodig om jou verstand as ouer en onderwyser in te span om nou die regte dinge met ‘n jong kind te doen wat uiteindelik die fondament moet vorm vir leer- en werksvermoë sowat tien en twintig jaar later.

Die vraag wat baie mense tans vra oor die toekoms van christelike onderwys in Suid-Afrika, is dus om meer as een rede geldig en word nie noodwendig met ‘n ongelowige nuuskierigheid gevra nie.

Die antwoord op die vraag is vir ons as mense met beperkte uitsig en verduisterde gemoed (as gevolg van die sonde) nie maklik nie, en tog aan die ander kant kan ons die die Bybel naspreek in dat ons tog baie dinge in die natuur waarneem oor plante en diere en die weer en dan daaruit tog akkurate afleidings of minstens afleidings met redelike waarskynlikheid kan maak.

HUIDIGE SITUASIE

Kom ons skets die situasie met dit wat tans sigbaar is:

  • Suid-Afrika is tans in die hande van ‘n onbevoegde regering wat God en sy gebod nie wil ken nie; die land is verder uitgelewer aan bendes: letterlike rowers, verkragters en moordenaars wat toeslaan omtrent waar hulle wil en wanneer hulle wil, maar ook regeringsamptenare wat deur ‘n mengsel van onbevoegdheid en opset wette verdraai soos dit hulle pas en administratiewe geregtigheid tot laagtepunte druk sodat onderwys met moeite en teen onreg in, moet probeer funksioneer.

 

  • Aanvalle op die Afrikaner is aanvalle op die christendom in Afrika – dit sê nie alle Afrikaners is gelowiges nie, maar wel dat as volk, in die makro-beskouing van Suid-Afrika se geskiedenis en samestelling, die Afrikaner sosio-polities vir die heidene die christendom verteenwoordig. Die geskiedenis van Suid-Afrika wys dat die welsyn van die Afrikaner – geestelik en ekonomies – en die welsyn van die land in geheel ten nouste saamloop.

 

  • Ons (die Afrikanervolk) is tans ‘n verknegte volk onder heidense dwinglandy van volkere wat nog nêrens in Afrika iets blywend en volhoubaar op staatkundige en volkereterrein kon daarstel nie.

 

  • Afrikaners het in groot getalle verval vanaf die betreklike noue band met protestantse geloof, tot ‘n versplintering wat strek van ortodoks-gereformeerd tot heidens en selfs aktief anti-God – ongelukkig bevat hedendaagse koerante en internetkommentaarplekke die wildste moontlike minagting wat in Afrikaans verwoord word. Die teendeel is ook waar, dat van die diepste gereformeerde belydenis nog steeds in Afrikaans gelewer word, onder ander omdat Afrikaans sy formalisering en moderne beslag gekry het rondom die Bybelvertaling – Afrikaans het gevorm onder andere weens en met die behoefte om die Bybel in Afrikaans te kan vertaal. ‘n Unieke taal dus wat bogemiddeld in staat is om die gereformeerde belydenis uit te druk.

 

  • ‘n Groot gros Afrikaners sit nog nominaal in kerke van gereformeerde belydenis, maar baie van hierdie kerke het so afgewyk en verword dat die skeiding tussen hulle werklike leefwyse en dit van die sogenaamde charismatiese kerke omtrent net in die kerk se adres of naam onderskei word. Gospel-sang is ‘n voorbeeld van ‘n dwaasheid wat orals gelykmaking en oneerbiedige aanbidding wil goedpraat.

 

  • Die Afrikanervolk is verward – kerklik, polities, sosiaal, taal, leefwyse (bv is verassing nie net geloofsvreemd nie, maar ook kultuurvreemd aan die Afrikaner, en tog kom dit vandag vrylik onder Afrikaanse kerkmense voor; en dwaalleerraars soos Angus Buchan kry groot Afrikaner-aanhang, terwyl ons hele geskiedenis wys dat ons Afrikanerlewe om ‘n sterk kerkbegrip en kerkbelewing, en nie losse predikers nie, gedraai het).

 

Die Afrikaner se versaking van sy gereformeerde leefwyse en belydenis, het ‘n groot invloed op christelike onderwys: in Suid-Afrika was dit Afrikaner-nasionalisme wat in die verlede telkens opbloeie van christelike onderwys praktiese uitlewingsgeleentheid gegee het; iets wat mooi met Artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis ooreenstem waar die owerheid uitgewys word as die rolspeler wat moet sorg dat daar ‘n sosiale omgewing is wat Christelike leefwyse bevorder m a w die sukses van volksbegrip het ‘n invloed op die christelike onderwys. ‘n Suksesvolle nasionalistiese verset teen die huidige regering van Suid-Afrika kan byvoorbeeld ‘n drasties makliker omgewing vir christelike onderwys daarstel.

Ons het die bejammerenswaardige toestand waarbinne die christelike onderwys in Suid-Afrika tans moet probeer funksioneer met ‘n vinnige potloodskets aangetoon. Nou is dit nodig om die begrip “onderwys” vir die doel van ‘n toekomsbeskouing van christelike onderwys uit te maak.

Daardie deel van onderwys of onderrig wat die ouers die kinders leer om die Bybel, die geloof, die liefde tot God en alles wat daarmee saamgaan, met ander woorde om kinders van God te wees, is binne elkeen se eie beheer. In die belydenis dat God Sy kerk instand hou, selfs al lyk dit soms of dit tot niet gaan, is daar absolute vastigheid dat hierdie deel van onderwys nooit ophou nie, en die toekoms daarvan benodig geen beredenering nie: God het gesê dit sal aanhou, daar sal altyd gelowiges wees, dus staan dit vas. Laat ons net elkeen onsself ondersoek dat ons dit ywerig doen: hou huisgodsdiens, hou huisgodsdiens, hou huisgodsdiens. Gee elke kind sy eie Bybel en leer hom dat die Heilige Gees self die prediker is as jy in jou binnekamer soggens en saans Bybel lees. En soek die ware kerk en gaan kerk toe, gaan kerk toe, gaan kerk toe. Hierdie deel van die onderwys is eenvoudig en in die koelte van die komkommertuin van God se genade, al bars wat om ons los.

Die deel van die onderwysbegrip wat te doen het met die kind se vaardigheids- en kennisopleiding vir beroepsdoeleindes, is die onderwysdeel waaroor ons eintlik besin met die vraag oor die toekoms van Christelike onderwys. Ons vra as gelowige Afrikaners – wat daagliks met roof, geweld, God-ontering en ineenstorting van orde en nog baie erge dinge gekonfronteer word – hoe ons die wetenskap en tegniek  aan ons kinders geleer gaan kry binne die regte uitgangspunt van christelike belydenis. Hoe lyk die moontlikheid vir basisopleiding om tot beroepsopleiding in staat te raak  sonder dat die opleiding afbreek aan die eer van God en die kennis van die evangelie wat tuis en by die kerk geleer word?

VRAE OOR OPLOSSINGS

Die antwoord oor skole en skoling is nie maklik nie: haal ek my seun uit die vakmanskool omdat die vaardige ou vakman se taalgebruik soms oorkook, maar my seun kan die beste van vaardigheid daar leer, ‘n gesin later onderhou met sy vaardigheid, sy kerkbydrae maak en selfs iets vir die armes oorhou (dink aan verskeie dele van belydenis, kerklike dienste en die huweliksformulier)?

As daar geen ander skool binne my bereik is nie, laat ek die kinders maar losloop of gee hulle aan goedbedoelde maar minderwaardige onderwys oor om hulle net nie in die staatskool te sit nie? Die vraag sny al hoe harder, want die vraag oor staatsonderwys betrek nie net meer die gehalte nie, maar ook die oorskryding van vlakke van verdraagsaamheid jeens verkeerde uitgangspunte:  mag christelike kinders enigsins binne Kurrikulum 2005 se uitgesproke humanistiese (en dus anti-christelike) oogmerke en benaderings onderrig word? Die antwoord op hierdie vraag word besonder moeilik omdat daar wel staatskole is wat nog iets probeer voortsit van die momentum van gesonde onderwys en die Bybel nog oopslaan in die skool, terwyl alternatiewe soos CVO- en ARSO-skole onderling skerp wissel in gehalte. Voeg daarby dat laasgenoemde twee ook binne die raamwerk van Kurrikulum 2005 onderwys gee. Die antwoord is dus baie plaaslik en persoonlik om as’t ware met die plaaslike detail te moet kies tussen die plaaslik beskikbare gehalte en inhoudelike aanbieding en benadering tot klasgee, van watter een van die variante van Kurrikulum 2005 op die plaaslike vlak die minste skade gaan doen.

DAAR IS ‘N TOEKOMS

Natuurlik is daar ‘n toekoms vir christelike onderwys: binne God se genade, maar die beproewinge kom ook oor ons. Daar is ‘n toekoms as ons koelkop bly – ek gebruik doelbewus moderner taal, want deel van die bewerkstelliging van ‘n toekoms vir christelike onderwys, is om nie vas te haak waar dit nie van toepassing is nie. Immers lyk ons kleredrag nogal anders en in baie opsigte minder formeel as daardie van ons voorouers, maar maak die kleredrag opsigself ons nie skielik ongelowig nie.

Die koelkop bly lê in die vermyding van uiterstes, om ‘n nugtere, gebalanseerde lewensuitkyk te behou. Balans in die lewe het baie kante: as die skurk jou huis binnekom, is ‘n betreklik ongebalanseerde gebruik van geweld teen hom vir daardie oomblik die regte ding, maar as die predikant die misdadiger in die tronk besoek, is die werkswyse anders. Die lewe het baie sulke kante: ‘n spyker slaan jy met geweld in, en ‘n doringtjie trek jy met sagte deernis uit die voet. Beide het skerp kante, maar het verskillende benaderings nodig volgens wat die situasies vra.

KERK EN STAAT IS BETROKKE

Ons moet kophou om nie met gereformeerde kloosters christelike onderwys te wil behou nie, terwyl dit aan die ander kant ooglopend is dat ‘n blote belydenislose volksverset as motivering hoe skole tot stand kom, nog minder standhoudend sal wees. Albei is saam nodig: volksverset is die sosio-politieke aksie wat nie die kerk se taak is nie, maar sonder God is dit nutteloos. Gereformeerde belydenis en die eis tot ‘n terugkeer na daardie belydenis waarvoor ons as volk geplant is, moet met die volksverset saamgaan.

Die fondamentlose geskreeu agter Afrikaans aan, is tans ‘n bewys van hoe ‘n volk vastigheid en beginsel op die verkeerde manier soek. Dit lei tot mistastings soos om ‘n “Afrikaanse” soos Steve Hofmeyr as leiersfiguur te betrek, terwyl sy openbare sedelose lewe met uitdagendheid daaroor, hom diskwalifiseer om as Afrikanerleier op te tree, want die Afrikaner sonder gereformeerde belydenis het nie ‘n toekoms nie. Solidariteit met sy Afriforum se versetaksies is leeg en nutteloos as mense soos Steve Hofmeyr en Sunet Bridges optogte moet lei om teen die veragtelike sedelose Zuma en sy regering beswaar te maak. Die pot kan die ketel nie verwyt nie, of hoe?

By al die mooi dinge wat ons in Afrikaans kan doen, en die geregverdigde stryd vir Afrikaans en moedertaalonderwys, moet ons versigtig wees om hierin nie die taal se belangrikheid te oorskat nie: in Afrikaans minag baie Afrikaners byvoorbeeld die Sondag (teen geloofsbelydenis in, maar selfs ook teen ons eie kultuur in) en laat toe dat sedelose en vloekende toneel opgevoer word by die “KKNK”  en “Aardklop” en nog ander plekke. Dit was ironies dat een van die opwellings van die sing van “De la Rey”, ‘n paar jaar gelede op ‘n Sondagaand by die KKNK plaasgevind het, op ‘n tyd wat die kultuur-egte en gelowige Afrikaner veronderstel was om in ‘n erediens te wees.

Terselfdertyd moet ons  raaksien dat ‘n gevestigde Gereformeerde skool met heelwat steun soos Gereformeerde Skool Dirk Postma in Pretoria, jare lank al maar net nie die 300-getal behoorlik standhoudend kan verbygaan nie, en die hoërskool veral worstel om ‘n aantrekkingskrag te ontwikkel. Die BCVO se skole trap ook al lank water, en terwyl daar naby 60 skole eens op ‘n tyd was, is die lys tans vlak in die 40. Dis hierdie sigbare feite wat die vraag laat ontstaan of daar dan ‘n toekoms vir christelike onderwys is.

God is ewig en onveranderlik. Dis ‘n feit. Die kerk sal nie ophou bestaan nie. Dis God se belofte en ons belydenis. Solank daar dus kinders van gelowiges is, sal daar christelike onderwys wees. Die sterkte daarvan sal eerstens bepaal word deur ons gehoorsaamheid aan God om kinders weer as seën van God in die huwelik te erken, en die spotters oor groot gesinne skerp te begin aanspreek, terwyl ons mekaar oproep om – met ons verstand natuurlik daarby – die wonder van ‘n vol tafel in die huisgesin opnuut af te bid en diegene wat hierdie seën ontvang, mag dit geniet (Psalm 128).

VRYHEID EN VERANTWOORDELIKHEID

Om gesonde onderwys vir die kinders wat ons nou het, en die kinders wat nog moet kom, te behou, moet ons ons ten eerste in ons gemoed vrymaak van staatsonderwys: van die gedagte dat die staat mag voorskryf oor my kind se opleiding. Dit moet egter saamgaan met die daarstel van christelike onderwys in die praktyk, wat nie net die boeke behels wat grotendeels in die gerief van die studeerkamer geskryf kan word nie, maar om die stryd aan te pak om kapitaal te versamel, skole te bou, onderwysers regverdig te vergoed op die vlak wat pas by die verantwoordelikheidsvlak van onderwys en in hierdie praktiese sake op te hou teoretiseer en uitvoering daaraan te gee.

Ons verstand moet ons ‘n keer rig oor die huidige toestand van ons volk, en wat ons kultuurbelewing  – of noem dit dan bloot die vlakker weergawe daarvan, van gemeenskapgewoonte – van die begrip skool is: ons durf nie maar net skouers oor sport en ander buitemuurse aktiwiteite (saam met goeie akademie natuurlik) op te trek en toekyk hoe leerlinge in die verwarring van die “darem nog goeie staatskole” – wat soms selfs elemente van waarheid het – na die groot staatskool aangetrek word ten koste van die pogings wat ons tans het vir christelike skole.

SAKEVERNUF EN TERUGKEER NA BELYDENIS

Dit is egter nog belangriker as die buitemuurse kwessie om die sakebeginsel te verstaan dat jou christelike skool iets uniek moet aanbied: in geld en organisasie en sigbare geriewe moet die tipiese christelike skool in Suid-Afrika die feite in die oë kyk dat hy nie die geld het om daardie geriewe net so te ewenaar nie. As die aanbieding dus Kurrikulum 2005 in verskillende formate is, maar dit bly Kurrikulum 2005 en loop in elk geval terug op ‘n Umalusi-sertifikaat uit, verg dit byna bomenslike geloof en vergeestelike raaksienvermoë om dan die vermeende christelike skooltjie te kies bo die “goeie” (darem nog) staatskool.

Christelike skole op gereformeerde grondslag in Suid-Afrika se voortbestaan gaan afhang van:

  • begrip en gebalanseerde beheersing en uitlewing van christelik-nasionale onderwys; en om dit nie te probeer skei nie en dit in alle opsigte uit te leef en die stryd op al die vlakke te voer.

 

  • aanbieding van onderwys wat nie net oppervlakkig die eer aan God in die boeke en aanbieding gee nie, maar ook in sy wese, aanbieding en kurrikulum-fondament christelike onderwys in teenstelling met die humanisme en kommunisme van die huidige regering se Kurrikulum 2005 en UGO aanbied. Dit is nie net ‘n belydenisvereiste nie, maar ook ‘n sake-vereiste om ‘n duidelike produk aan te bied.

 

  • die aanleer en toepassing van kapitaalversameling om verantwoordbare geriewe op te bou na die pioniersfase wat nou al verby moes gewees het, asook beheersing en gebruik van korporatiewe beeldbou en bemarking wat die samelewing van vandag se begrippe van lojaliteit en aansluiting vorm.

 

  • kulturele terugkeer in die gemeenskapslewe na bv Sondag-eerbiediging en huisgodsdiens sodat ‘n sterker gemeenskaplike stel gewoontes in die gemeenskap die skoolprogram en die dissiplinêre onderbou wat meer gemeenskaplik by die ouerhuis moet plaasvind kan ondersteun, sodat die skool makliker kan funksioneer en kan fokus op sy hoofdoel: akademiese opleiding.

 

  • die ontstaan van ‘n heldedom onder die kinders self – as die huidige geslag ouers dan in gebreke bly om met dapperheid op te tree – wat in verset tree om die staat se netwerk van vereistes om ‘n “amptelike” matrieksertifikaat te behaal, uit te daag en alternatiewe roetes volg om die juk wat dit oplê en waardeur ons telkens mooitjies deur die staat in sy drukgang teruggedwing word, af te gooi. Vryheid is nie praat nie, dis iets wat jy leef.

 

Sonder hierdie insig en strydvaardigheid gaan ons sukkel en verstrooid bly. Die feit dat christelike onderwys tot die laaste dag van hierdie aarde sal voortbestaan, is vas. Ons bepaal net hoe maklik of hoe moeilik ons dit vir onsself maak, en wat ons in terme van onderwys- en skoolbates aan ons kinders nalaat.

Kyk ook www.indicato.co.za

Augustus 24, 2009

‘N STRATEGIE VIR ONS ONDERGANG

Filed under: Allerlei,Christelike onderwys — vddbadmin @ 7:32 nm

Ons was in Suid-Afrika onder beskaafde bewind vir dekades lank daaraan gewoond dat ons kerke, skole en gemeenskapslewe ‘n redelike mate van eenheid gevorm het. Oor die algemeen was die gees van gereformeerde belydenis sigbaar in die staatskole gebaseer op kurrikulums en voorskrifte wat eerbied en ootmoed aan die Bybel en die Naam van die Here betoon het. 

Dit het ons in die gewoonte gebring om nie te hard oor skool te hoef te gedink het nie. Onderwysstandaarde was opsigself sodanig dat min kommentaar nodig was, en dat mens selfs sou kon redeneer dat wat in geloofsleer dalk bietjie by die huis reggeskaaf moes word, in elk geval vergoed word deur goeie wiskunde, Engels, biologie en so meer. Vakonderwys op hoë peil met goeie resultate. 

Dit het alles verander, maar het ons denkwyse en insig verander? 

DIE HERSIENE NASIONALE KURRIKULUMVERKLARING

Die sogenaamde Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring oftewel Kurrikulum 2005, gaan van die volgende standpunte uit (wat hier in Engels aangehaal word, omdat dit eintlik so vreemd aan ons gereformeerde woordeskat is dat dit nie juis in Afrikaans werk nie)(1):

 The Manifesto on Values, Education and Democracy (Department of Education, 2001) identifies ten fundamental values of the Constitution. These are: 

  1. Democracy
  2. Social Justice and Equity
  3. Non-Racism and Non-Sexism
  4. Ubuntu (Human Dignity)
  5. An Open Society
  6. Accountability (Responsibility)
  7. Respect
  8. The Rule of Law
  9. Reconciliation

 The Manifesto further identifies 16 strategies for familiarising young South Africans with the values of the Constitution. These strategies find expression inthe Revised National Curriculum Statement and include:

  1. Nurturing a culture of communication and participation in school.
  2. Role-modelling: promoting commitment as well as competence amongst educators.
  3. Ensuring that every South African is able to read, write, count and think.
  4. Infusing the classroom with a culture of human rights.
  5. Making Arts and Culture part of the curriculum.
  6. Putting history back into the curriculum.
  7. Learning about the rich diversity of cultures, beliefs and world views within which the unity of South Africa is manifested.
  8. Making multilingualism happen.
  9. Using sport to shape social bonds and nurture nation-building at schools.
  10. Ensuring equal access to education.
  11. Promoting anti-racism in schools.
  12. Freeing the potential of girls as well as boys.
  13. Dealing with HIV/AIDS and nurturing a culture of sexual and social responsibility.
  14. Making schools safe to learn and teach in and ensuring the rule of law.
  15. Promoting ethics and the environment.
  16. Nurturing the new patriotism, or affirming a common citizenship.

 Daar is dalk dinge hierin wat op sigwaarde mooi klink, maar dadelik moet ons die vraag vra of die geregtigheid van God hierin is? Of hier belydenis is… of net menslike waardes. En dis daardie deel wat ons moet besef: die huidige staatskurrikulum gaan van die mens uit; daardie mens wat selfverlossing soek in die mensliefde en die mensvrede. Die “rule of law”wat hier bo bedoel word, is daardie verstrengelde menslike wetjies wat “social justice and equity” en sulke dinge probeer regkry, terwyl God se Tien Gebooie geen plek hier het nie. “Democracy” word ‘n beginsel (“fundamental value”) terwyl dit g’n Bybelse grond het dat sogenaamde demokrasie die wyse van regeringsamestelling móét wees nie. Israel van ouds wou minstens darem ‘n koning hê, en dit was al gereken as opstand teen God; Suid-Afrika van vandag wil sy redding in die mense se opregtheid en liefde vind: in ubuntu, in non-racism and non-sexism en an open society (sit maar die TV aan en slaan haas enige tydskrif vandag oop en sien presies hoe open ons society geword het: niks is meer heilig nie).

 Hou steeds in gedagte dat die nege punte waarmee die kurrikulumverklaring die grondwet opsom, die nege punte as fundamental values  oftewel beginsels voorhou. Uitgangspunte. Fondamente. (Dis nie duidelik hoekom daar net nege genoem word, maar na ten fundamental values verwys word nie).

 Nou gaan die kurrikulumverklaring verder en stel 16 strategies. Dis eienaardige bewoording vir ‘n kurrikulum: ‘n kurrikulum kan seker uitgangspunte hê, of doelwitte of beginsels, maar hoekom strategies? Die strategies self gee die antwoord: dit is daarop uit om kinders te verander. Nie te onderrig of op te voed nie, soos ons gereformeerde onderwys se woordeskat werk nie, maar doelgerig (met ‘n plan, met ‘n strategie) te verander.

 KINDERS WORD AAN DIE STRATEGIES OORGELEWER

Dit sal boekdele verg om elke strategie te ontleed, maar vir die gereformeerde kerkganger behoort dit nie so moeilik te wees om aan die hand van enkele voorbeelde voldoende in te sien hoe gevaarlik en onaanvaarbaar hierdie strategies is nie. Ons moet gewaarsku wees dat waar ons tot hiertoe maar filosofies die probleem van menseregte aangetoon het, ons in die kurrikulum self te doen het met ‘n reëlregte gekombineerde kommunistiese- en Afrika-aanslag op ons kinders en dus ons voortbestaan en ons belydenis. Strategies!

 Kom ons gee voorbeelde: 

  • Nurturing a culture of communication and participation in school wat in die menseregtekonteks die verskuiwing van leerling (wat as kind gehoorsaam aan die voete van sy leermeester leer, in ooreenstemming met ons belydenis dat alle mense in die erfsonde gebore is en sy skuld nog meer maak, die dat die kind geleer moet word) na leerder (die veronderstelde jong mens wat vanself gretig is om te leer en regte het dat iemand dit vir hom net moet fasiliteer) meegebring het. Dit manifesteer in onderwysers wat knak onder die las van leerders wat nie regtig gedissiplineer mag word nie. Ons weet dat die menseregte homself vasdraai. Die Bybel sê “spaar die roede nie”; die  open society waarin die leerder funksioneer met participation en waar ubuntu (Human Dignity) en democracy die botoon voer bo-oor gehoorsaamheid aan die Wet van God laat geen ruimte vir orde nie, want wanneer die mens self wil orden, val dit plat. Maar die strategy is om kinders te leer dat hulle in alles participation  het.
  • Infusing the classroom with the culture of human rights: die voorgaande punt bespreek hierdie probleem
  • Putting history back into the curriculum: hierdie strategy het net een betekenis: dwing ‘n verworde geskiedenis wat die Afrikaner valslik verneder in ons kinders se kele af. En baie van ons kinders en selfs ouers het reeds die skuldgevoel aangekweek en leer dit gretig aan. (Pa, Ma – weet jy wat in jou kind se skoolboeke staan?)
  • Die unity of South Africa is ‘n drogbeeld wat aan ons kinders opgedring word, gebaseer op die veronderstelling dat almal maar almal se kulture en gelowe en wêreldbeskouing moet aanleer en respekteer. Ons is in teenstelling daarmee: daar is net een God! Tog is daar selfs in Gereformeerde onderwysgeledereal stellings gepubliseer dat ons nie afbrekend van ander godsdienste moet leer nie! (2)  In ons lewensbeskouing kan ons byvoorbeeld tog nie veelwywery as maar net ‘n kultuurverskynsel beskou en goedpraat nie? Tog is dit wat hier veronderstel word as daar van rich diversity of cultures gepraat word, naamlik dat ons die “ryk”  inhoud van anti-kultuur (gemeet teen God se wet is dit anti-kultuur) nou as kultuur moet gaan beskou.

Die staatskole funksioneer onder bogenoemde baniere van fundamental values  en strategies  met hulle verwerplike inhoud. Al drie amptelik  (staats) erkende matriekeksamens (staat, IEB en OAER) word onder die raamwerk en “sorg” van die staat onder toesig van sy instelling, Umalusi, afgelê(3). Ons doopbelofte verwys daarna om die verantwoordelikheid te neem om ons kinders in die regte leer te onderrig en te laat onderrig. Daar is in sommige skole nog onderwysers wat hier en daar weerstand bied, en individue wat die staat se verwerplike inhoude probeer weghou, maar dat daar nog nie ‘n massa-opstand van gereformeerde ouers gekom het en dat die privaatskole wat probeer om onder hierdie baniere van onderwys uit te kom, nie oorloop nie, is hartseer bevestiging daarvan dat die Afrikaner grotendeels sy kontak met sy kosbare belydenis van Dordt verloor het. Daar is inderdaad nog skole met sogenaamde christelike “waardes”, maar wat het van die belydenis  geword?

WERP SKANSE OP

 Deesdae word daar in baie gemeentes gevra waar die jongmanne dan is wat in die ampte moet dien? Waar die jong vrouens is wat die gereformeerde huishoudings moet opbou? Die strategy is alreeds met sukses teen ons toegepas, want baie is al omvorm tot sosialistiese burgers van ‘n menseregte eenheidstaat, waar mens nie golwe maak dat daar net een God en dat daar ware en valse kerk is nie. Daar is egter klein klompies getroues wat weerstand bied. Sluit by hulle aan. Hulle het meestal meer geloof en blinde daadkrag as wat hulle mooi strategieë het. Maar hulle open hulle skole se bestuursvergaderings met byvoorbeeld Psalm 20, en met die klem dan op vers 8: “Sommige roem op strydwaens en ander op perde, maar óns sal roem in die Naam van die HERE onse God.”

Maar dis nie net blinde vertroue nie. Daar bestaan reeds baie in die vorm van privaatskole wat probeer om gereformeerde wortels terug te vind, om gesonde onderwys aan leerlinge te doseer, en waardeur die gety omgekeer kan word. Mits ons getrou is, en as gemeenskap en as volk nie langer huiwer om ons rug op die huidige verwerplike staatsbestel se fundamental values te keer, en ‘n skans op te werp tussen ons kinders en die 16 strategies  nie, het ons die vermoë en is ons in staat om nie net onderwys vanuit die regte beginsels nie, maar ook van veel beter gehalte aan ons te kinders te gee.

Gaan soek as gesin dit wat ewige waarde het: nie strydwaens en perde nie, nie rugbyvelde en staatsamptelike eksamens nie, maar die roem in die Naam van die HERE onse God.

Leonard van der Dussen

18 Mei 2009

  1. Die volledige teks van Revised National Curriculum Statement Grades R-9 (Schools) kan gelees word by http://www.info.gov.za/view/DownloadFileAction?id=70257
  2. “van ander godsdienste te leer…. met die nodige onderwyskundigheid…..sonder afbrekende opmerkings en karikaturisering, maar wel met ‘n kritiese ingesteldheid…”(ARSO-nuusbrief, Junie 2003).
  3. Umalusi maak dit in sy verslag van Desember 2008 oor die 2008-matriekeksamen duidelik dat die huidige situasie waar die BCVO, ARSO en sommige ander privaat- en selfs staatskole lewensoriëntering tot ‘n soort christelike onderrig omvorm nie noodwendig verdra gaan word nie: “There seem to be no clear demarcation between LO and Religion Studies in the OAER. The OAER needs to find a balance between Life Orientation (as a subject) and how the subject is approached. It would be more beneficial to separate the Religion Studies component from Life Orientation in order to give both subjects the required attention.” (2008 – Report on the Quality Assurance of the National Senior Certificate Assessment and Examination; Umalusi: Council for Quality Assurance in General and Further Education and Training; bl 29)

Theme: Rubric. Blog at WordPress.com.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.